V&A met Neil de Kock

V&A met Neil de Kock

19 years ago News

v Hoe gaan dit met jou en Bolla?

A Fantasties. Natuurlik is daar bietjie wedywering tussen ons. Maar dit is alles in ‘n goeie gees.

v Wat is jou bynaam in die Investec Stormers span?
A Pedro. Die ouens is vas oortuig ek het Portugese bloed in my van iewers laaaaank gelede.

v En wat is jou bynaam vir Bolla?
A Dis nou maar eens en vir altyd Bolla. Bolla het vasgesteek.

v Jy het onlangs getrou. Is jou vrou die baas in die huis?
A Ek laat háár so dink, ja.

v Ek hoor jou vrou is baie mooi. Wat doen jy as ‘n ander ou haar te veel aandag gee?
A Ag nee wat. Dit pla nie. Ek weet ek is die ou wat die ring aan haar vinger gesteek het.

v Is sy dan die mooiste vrou in die wêreld?
A Sonder twyfel.

v Wat dan van Charlize Theron?
A Ek gee haar ‘n tweede plek.

v En Britney Spears?
A Sy maak nie eens naastenby die top 10 nie!

v Terug na rugby. Wat was vir jou ‘n baie snaakse oomblik op die veld?
A Man, Fleckie het eendag iets vir Justin Harrison gechirp. Iets in die lyn van hy (Justin) is die lelikste rugbyspeler in die wêreld. Ek weet nie wat Justin vir hom terug gesê het nie, maar dit was binne vyf sekondes en Fleckie het tjoepstil na sy plek toe gehardloop en vir die res van die wedstryd sy mond gehou.

v Vertel ons weer van daai beroemde 80m drie van jou teen die Waratahs.
A Dis ongelooflik hoe vinnig mens kan hardloop as mens bietjie bang is, maar hopelik is daar nog baie sulke oomblikke.

v Wie is die hanswors in die Investec Stormers span?
A Pieter Dixon en Rob Linde. Maak nie saak of mens vir hulle lag of saam met hulle lag nie. As hulle by is, lag mens.

v En watter grappe of poetse is op jou gemik?
A Nee wat. Gelukkig niks nie.

v Ek hoor jy is een van die gaafste ouens in Suid-Afrikaanse rugby. Het jy ‘n spesiale wrede wedstrydgesig wat jy opsit as jy teen nare ouens soos die Kiwis, Aussies en Poms speel?
A Ek gee net 150% op die veld. Quinton Davids het die beste wedstrydgesig van almal.

v Watter speler sal jy graag ‘n snotklap wil gee, wetende jy gaan nie gemerk word nie?
A Rob Linde. Sommer net om sy reaksie te sien. En vir al die gefoeter wat hy my van die veld af gee.

v Sal jy ooit vir die SA Rugby tydskrif se kalender modelleer? Of soos die Franse rugbyspan naak gemodelleer het vir hulle kalender?
A Kaal? Ek dink eerstens ek sal nie in die gekose groep wees nie. En tweedens sal ek ook nie my hand opsteek vir die geleentheid nie.

v As Luke Watson die David Beckham van die Stormers is, wie sal Faan Rautenbach wees?
A David Boon.

v As kaptein, watter speler voel jy moet soms bietjie ‘in toom gehou’ word?
A Ek hou by Rob Linde. Hy steek net altyd sy hand daarvoor op.

v Wat is jou grootste droom?
A Om suksesvol te wees in alles wat ek doen. En om rugby te speel tot ek 40 is.

v Wie ondersteun jy as die All Blacks en die Lions mekaar later vanjaar pak?
A Die All Blacks. Ons speel al soveel jare teen hulle dat ons, glo dit of nie, al ‘n hele paar vriendskappe gesmee het.

v Wat lees jy op die oomblik?
A The Poisonwood Bible deur Barbara Kingsolver.

v En wat was die laaste CD wat jy gekoop het?
A Van ‘n plaaslike groep genaamd Spoonfeedas. Local is mos lekker.

v Hoekom bly jy in Durbanville as jy in Kampsbaai kan bly?
A Ek sal Kampsbaai vir die beach boys soos Marius Joubert en Joe van Niekerk los.

v Die Vodacom Super 12 is amper verby. Wat is die eerste nie-rugby verwante ding wat jy gaan doen?
A Ek sal graag iewers op ‘n wildsplaas wil gaan ontspan. Iewers plaaslik.

 

PREVIOUS ARTICLE NEXT ARTICLE